|
WEN SUID AFRIKA VIR CHRISTUS
Enige poging om Suid Afrika vir Christus op te eis moet by die Christene in die land begin. Die Bybel as gesagvolle openbaring van die Lewende God, sal in die strewe weer die regmatige plek moet inneem. Dit is in die Woord dat ons God leer ken en Sy geopenbaarde Woord sal in ons omstandighede toegepas moet word. Dit is egter ’n vraag of Christene nog 1 Tim 6:12 verstaan (In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.) In die praktyk lyk dit asof Christene nie meer bereid is om ter wille van geloofsoortuigings hul kragte saam te snoer nie. Ons gaan toenemend kompromieë aan en swyg oor dwaalleringe en die verdagmaking van Bybelse grondwaarhede waarvoor gelowiges in die verlede hulle lewens sou opoffer. Niemand wil vandag kontroversieel wees nie, maar die eise van Christus laat ons nie toe om neutraal te staan nie.
Om ons roeping in die land uit te leef moet ons na ons gesindhede en riglyne vir ’n Christelike lewe kyk. Ons moet studeer, bid, oortuig, weerstand bied en stry vir wat reg is. Om op te staan vir wat reg is, is nie populêr nie, want ons leef in ’n tyd waarin alles aanvaarbaar is en verdra moet word. Die belangrike vraag is of my oortuigings nog so belangrik is dat ek bereid is om daarvoor op te offer.
Die wêreldwye stryd om oortuigings word nie verloor omdat ander standpunte meer oortuigend is nie, dit word verloor omdat Christene onaangeraak is, lui, onbetrokke en louwarm geword het. (Jes 29:13 Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.)
Bykans 200 jaar gelede het die bekende Engelse leraar, Biskop JC Ryle, die volgende riglyne neergelê as ons die wêreld vir Christus wil wen. Hy skryf:
1. Weerstaan manmoedig alle pogings om Bybelse Christenskap te ondergrawe.
2. Wees vertroud met die boodskap van die Bybel sodat ons weet wat geskrywe staan.
3 Kyk hoe die Protestantse Belydenisskrifte die Bybel verklaar. Kyk wat het daardie Christene opgeoffer ter wille van hul oortuigings
4. Interpreteer dit wat in die wêreld gebeur in die lig van die Skrif. So alleen kan valsheid onderskei en weerstaan word.
Die Woord alleen onderrig in die waarheid, bestry dwaling, stel verkeerdhede reg en kweek 'n regte lewenswyse. (2 Tim. 3:16) Dit is eerstens op die Christene van toepassing. Joh 14:21 "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar."
Het ons nog die wil om dit te doen?
Ons grootste probleem is dat ons so huiwerig is om in beweging te kom. Ons wil nie standpunt inneem ter wille van ons oortuigings nie en nog minder belaglik gemaak word. Maar ons huis is op rots gebou, Jesus Christus. Ons dien die lewende Here van die Leërskare wat die oorwinning in Sy Naam waarborg. Hy daag ons uit om in Sy Naam en Sy gesag te gaan en te onthou Hy is met ons al die dae (Matt 28:20)
Die uitdaging is om ons, daar is soveel geleenthede by die huis, die skool en die kerk om ’n verskil te maak. Kom ons staan vir wat ons weet reg is. Om te verwag dat die duisternis sal padgee omdat ons niks verkeerds aan hom doen nie is dwaasheid. Kom ons sê saam met Jesaja, hier is ek stuur my! Kom ons se saam met Dawid – moet nie oor hom onstel wees nie, ek sal gaan en teen Goliat veg (1 Samuel 17:26, 32)
Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk Spreuke 29:18
Die Christene in hierdie land is deur die Here hier geplant om vir ander tot seën te wees en die Christelike Evangelie verder te versprei. Die Afrikaners was vir baie jare die mede-draers van die Blye Boodskap maar het roepingsontrou geword. Dit is dus verstaanbaar dat Hy wat nooit die werk van Sy hande laat vaar nie, tugtigend sou optree. Hierdie situasie het vir drastiese hartsverandering gevra en dr. Willie Marais, het die inisiatief geneem om ‘n beweging te begin om die krisis waarin die Afrikaner hom bevind te evalueer en die Afrikaner tot verootmoediging te roep.
Dit is duidelik dat herstel en terugkeer by hulle moet begin wat die lig gehad het en toe die rug daarop gedraai het. Ons het afvallig geraak van ons geestelike wortels en Afrikaners het hul geloofsverpligtinge skromelik verwaarloos. Uit die Skrif is dit duidelik dat Verbondsverwaarlosing altyd lei tot Verbondswraak en dit is die realiteit wat huidig duidelik sigbaar is. Die Bybelse pad na herstel loop langs Volksverootmoediging met skulderkenning en belydenis voor God Drieënig. Wie sy sonde wegsteek moet niks goeds te wagte wees nie, wie sy sonde bely en daarvan afsien sal genade ontvang Spr 28:13.
Daar is besluit op die naam Afrikaner Alliansie (AFRIAL) omdat eenheid en verootmoediging gesoek word, beginnende by Afrikaners en sodra ons eie huis in orde is, sal die hand van vriendskap uitgesteek word om vir al die inwoners van hierdie land tot seën te wees. Samewerking word met enige organisasie of groepering gesoek wat hierdie visie steun. Afrial bedreig geen kulturele, politieke of godsdienstige struktuur nie, maar soek samewerking ter wille van die bereiking van gemeenskaplike oogmerke en roepingsvervulling.
Afrial se gesag setel in die Woord van God, maar ‘n grondwet of program van beginsels is opgestel vir strukturering en organisering. Die Nasionale Hoofbestuur interpreteer en beskerm die grondwet en voorstelle vir grondwetlike wysiginge kan op gestruktureerde wyse voorgelê word.
Afrial is verder gestruktureer volgens belange- of fokusgebiede met plaaslike, provinsiale en nasionale komitees wat elk van hierdie fokusgebiede bestudeer en bestuur. ’n Daadwerklike poging word ook aangewend om Afrikaners in die buiteland te betrek. Dit word vertrou dat hierdie geestelik-kulturele mobilisasie, uiteindelik tot ‘n volhoubare volksbeweging sal groei waaruit, op sy beurt, ‘n verteenwoordigende volksliggaam tot stand sal kom wat as mondstuk vir Afrikanerbelange kan dien.
Registrasie
Enige persoon wat homself as ‘n Christen Afrikaner beskou, kan aansoek doen om te registreer. Lidmaatskap kan verkry word teen die geringe bedrag van R50-00 per jaar of ‘n eenmalige bedrag van R200-00 vir lewenslange lidmaatskap. Hierdie fondse word uitsluitlik aangewend vir organisering. Teken hier aan: afrial@mweb.co.za
Telefoon Besonderhede
(012) 654-0404 of (083) 654-7787
|